Na jare agter die skerms van die Afrikaanse musiekbedryf en kerkgemeenskappe, tree Simeon Kriel nou self in die kollig met sy eerste solo-enkelsnit, “Stukkie” – ’n eerlike, introspektiewe stuk musiek wat ’n stukkie van homself aan die wêreld aanbied.
Die enkelsnit is beskikbaar op alle digitale platforms. “Stukkie” vertel die verhaal van hoe ’n mens jouself in ander se verwagtinge kan verloor, maar steeds probeer om iets eg, iets van jou ou self, vas te hou. Dis melancholies, maar tegelyk hoopvol – ’n oproep tot innerlike waarheid en identiteit.
Van rockverhoog tot aanbiddingsleier
Simeon se musiekloopbaan het reeds in sy tienerjare begin toe hy deel was van die gewilde band Alleen Na Desember, wat dit tot die finaal van Rockspaaider gehaal het en later op groot feeste soos Aardklop, Oppikoppi en Vredefest opgetree het.
Na sy tyd in die alternatiewe musiekwêreld het hy hom tot die aanbiddingsruimte gewend en vir jare as Worship Leader en musiekvervaardiger by gemeentes soos Oase en Alberton Lewensentrum gewerk.
Sy musiek het daar duisende mense geraak en suksesvolle CD-verkope en aanlyn betrokkenheid tot gevolg gehad.
’n Nuwe klank, onafhanklikheid en kreatiewe beheer
Met “Stukkie” begin Simeon nou ’n nuwe hoofstuk as onafhanklike solo-kunstenaar. Die lied is die eerste van verskeie vrystellings en word ondersteun deur blank_ creative agency, die kreatiewe firma wat hy self gestig het.
Blank_ werk saam met kunstenaars soos Zaan Sonnekus en Barto Swiegers aan visuele inhoud, en stel Simeon in staat om musiek sonder platemaatskappy vry te stel – met volle kreatiewe beheer en ’n sterk visuele identiteit.
Simeon Kriel se Nuwe avontuur in Amerika
In 2023 kry Simeon die geleentheid om saam te werk met Andries Enslin aan ’n nuwe kreatiewe en aanbiddingspan in Austin, Texas.
Die idee was om die werk van blank_ creative agency uit te brei na die VSA, terwyl sy Suid-Afrikaanse span steeds ondersteuning bied.
Maar kort ná aankoms tref ’n ongeluk hom: “Ek het my femur gebreek toe ’n stomp my getref het op Lake Travis,” vertel hy. Hy moes vir ’n maand bedlêend in Texas bly voordat hy kon terugkeer Suid-Afrika toe.
’n Terugkeer, nuwe planne en musiek oor grense heen
Simeon keer in Junie 2025 weer terug na Austin, waar hy nou met nuwe kliënte werk en steeds ’n hegte verhouding met Andries en sy gesin behou. “Elke keer as ek daar is, eet ons BBQ by Salt Lick – soos ’n mens móét doen in Texas,” lag hy.
Hy beplan ook om sy musiek oor te neem: “Ek het al ’n paar vriende gemaak in Austin se musiektoneel en gaan twee akoestiese vertonings hou in Augustus vanjaar.”
“Ek reik nou ‘Stukkie’ in Suid-Afrika uit, sodat ek darem ’n stukkie van myself hier los terwyl ek oorsee is,” sê Simeon.
Kyk die video vir “Stukkie” hier onder:
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music Videos kategorie op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, Subscribe to our newsletter.
Looking for something to do? Check out our Upcoming Events section or the SA Gig Guide.
Want to explore the SA Music Scene? Check out our Artist/Band/Group Profiles section.
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify.