“Rondomtalie”, die eerste enkelsnit vanaf Saarkie se sesde ateljee-album, is ’n Afrikaans folk-liedjie wat gaan oor die ‘rondomtalie’ van menswees.
“Die lewe vat ’n mens op geheimsinnige paaie, ’n mallemeule van oomblikke. Op ’n dag ontmoet jy iemand, en dit voel of jy die besonderse mens al ’n leeftyd ken. So asof hulle nog altyd daar was, maar die tyd moes eers reg wees,” vertel hulle oor die betekenis agter dié liedjie uit die pen van Adèle Fouché, met mede-skrywers, Lila Botha en Christine du Plessis. “Soos wat die tyd aanstap, deur die rondomtalie van my menswees, besef jy die persoon was eintlik nog altyd daar gewees.”
Saarkie, Suid-Afrika se gunsteling-rockgroep, het al diep spore in die musiekbedryf getrap, en hierdie Vrouemaand het dié musikante meer as een rede om fees te vier.
Nie net kan hulle weer vrylik voor groot gehore optree en het hulle skoonskip gemaak by die onlangse Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings nie, maar hulle nuutste enkelsnit en musiekvideo is ook pas vrygestel en is reeds besig om soos ’n veldbrand te versprei!
Meer inligting oor “Rondomtalie”
Volgens die groeplede sal die snit wat deur Jacques du Plessis van High Seas Studios opgeneem en deur Gustav van Rooyen verwerk is, aanklank vind by ’n wye gehoor, omdat almal al in die lewe ’n rondomtalie van goeie en slegte tye ervaar het.
Die musiekvideo, wat deur Kopwond Films in ’n ou antieke huis verfilm is, vertel die storie van ’n verliefde paartjie wat saam daar intrek nadat hy haar op die rondomtalie in die parkie vir die eerste keer daarvan vertel. Die meisies verduidelik: “Die huis is vol geheimsinnige gange en deure wat na nuwe vertrekke lei en nuwe uitdagings bied. In die tuin vind hulle ’n veilige hawe, waar hulle sorgvry kan wees soos toe hulle nog kinders was.”
Wat die video nog meer spesiaal maak, is dat dit in Lila Botha se Die Nagington Manor geskiet is, en dat Francois Jacobs en Shané Nykie Pretorius (wat op die kykNET-program Op My Eish! ontmoet het) die hoofrolle vertolk.
“Rondomtalie” volg in die suksesvolle voetspore van vorige treffers soos “Waar lê jou hart” (die titelsnit van hulle vorige album), “Reënweer” en “River Blues”, wat goed ontvang is en aan hulle vier Afri-Indie-toekennings besorg het, waaronder Beste lewendige rockgroep, Beste alternatiewe album, Beste alternatiewe enkelsnit en Beste rock-enkelsnit.
Kyk die video vir “Rondomtalie” hier onder:
Alhoewel Saarkie, wat oorspronklik bestaan uit Adèle Fouché en Lila Botha, hoofsaaklik nog altyd ’n meisiesgroep was, word hulle deesdae op die verhoog vergesel deur baskitaarspeler Angelo Roman. Dié sestienjarige Pretorianer en seun van die bekende musikant Rixi Roman is nou al vir ’n jaar by die groep doenig en geniet elke oomblik daarvan.
“Angelo is baie musikaal en het ’n besonderse aanvoeling vir musiek. Hy het ’n mooi hart en ons hou van sy persoonlikheid, maar op die verhoog is hy ’n rockster. Hy’s ons Big Daddy A,” sê die meisies.
Buiten vir ’n nuwe album, het die groep ’n lekker vol kalender vir die res van die jaar en beplan hulle aan ’n 2023-toer na Nieu-Seeland en Australië. Wanneer hulle nie op die verhoog is of liedjies skryf nie, bestuur Lila haar nuwe besigheid – Da Capo Trading – en hou Adèle haarself besig met kuns- en houtprojekte. Hulle geniet dit ook baie om by die see of in die bosveld te ontspan.
Saarkie bestaan al vir sestien jaar en met “Rondomtalie” kom wys hulle net weer hoekom hulle so geliefd is. “Liefde is die saadjie van die liedjie en die boodskap is om die lewe te geniet en die mooi in elke aspek daarvan raak te sien. Suid-Afrikaners hou van sing en dans en dit is presies wat hierdie snit bied,” sluit hulle af.
Jy kan “Rondomtalie” op Spotify en ander musiekplatforms stroom
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music Videos kategorie op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, Subscribe to our newsletter or if you're looking for something to do, check out our SA Gig Guide.
If you like what we do and you want to support us, feel free to buy us a coffee!
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify or YouTube Music. These playlists are updated regularly.
Living in South Africa and looking for a new smartphone? Check out Mondo Mobile - They partner with major networks to offer competitive deals, making it easy to find affordable options for your connectivity needs.