Ruhan du Toit, een van Afrikaans se mees geliefde en herkenbare stemme, sluit 2025 op ’n ligte en opbeurende noot af met sy nuwe enkelsnit, “Totsiens” – ’n lied wat perfek vasvang hoe ons die ou jaar met hoop en dankbaarheid groet en die nuwe jaar verwelkom.
Meer inligting oor Ruhan du Toit se nuutste enkelsnit
“Totsiens” is ’n vrolike, kontemporêre Afrikaanse lied wat handel oor die krag van verandering en die mense wat lig bring in moeilike tye. “Partykeer in die rofste tye het jy net daai een persoon nodig wat alles kom verander, sodat jy weer vir die slegte tye kan sê ‘cheers’,” verduidelik Ruhan.

Die lied is geskryf deur Georic Lomas en Marco van Deventer, wat onlangs ook die Aitsa-toekenning vir Liedjieskrywer van die Jaar ontvang het. Die lirieke en melodie vind die perfekte balans tussen inspirasie en energie, met Ruhan se kenmerkende stem wat die boodskap opreg en warm oordra.
“Ek wou die jaar afsluit met iets wat mense laat glimlag,” sê Ruhan du Toit. “Ons het almal dinge wat ons graag wil agterlaat – en ‘Totsiens’ gee jou daardie lekker gevoel van afsluiting en ’n nuwe begin. Dis ’n lied wat jy kan luister, ongeag of jy verlief is of net klaar is met alles wat sleg was.”
Volgens hom is “Totsiens” bedoel om luisteraars positief te laat voel. “Ek hoop dit bring lig en vrolikheid – iets wat jy enige tyd van die dag kan aansit om jou gemoed te lig,” voeg hy by.
Die musiekvideo wat saam met die enkelsnit uitgereik word, bied ’n vars en egte kykie agter die skerms. Die produksiespan het doelbewus gekies vir ’n spontane “rehearsal”-styl video – sonder dat die orkes of videograaf die liedjie vooraf gehoor het.
“Dit het die verfilming ongelooflik natuurlik gemaak,” sê Ruhan. Die video is by Upper East Side in Hazelwood, Pretoria verfilm, met Eric Graham en sy span aan die produksie, saam met Georic Lomas en Marco van Deventer.
Met “Totsiens” wys Ruhan du Toit weer hoekom hy een van die mees gerespekteerde kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf bly – ’n kunstenaar wat telkens nuwe lewe in die taal en sy musiek blaas.
Kyk die video vir “Totsiens” hier onder:
Jy kan die liedjie HIER stroom/aflaai.
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music Videos kategorie op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, Subscribe to our newsletter.
Looking for something to do? Check out our Upcoming Events section or the SA Gig Guide.
Want to explore the SA Music Scene? Check out our Artist/Band/Group Profiles section.
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify.



