Die Afrikaanse liedjieskrywer en sanger Pieter Marcato is terug met ’n vars, onweerstaanbare kuier-liedjie wat reeds beloof om een van 2025 se grootste partytjietreffers te word.
Sy nuwe enkelsnit, “Lekker Man”, vang die ware gees van Suid-Afrikaanse saamkuier vas – daardie bekende, warm “lekker man!” wat in bykans elke geselskap rondgaan wanneer iemand vra hoe dit gaan.

Die Alledaagse Inspirasie Agter “Lekker Man”
Volgens Pieter Marcato is die inspirasie vir “Lekker Man” direk uit die alledaagse leefwêreld gebore. “Almal sê altyd ‘lekker man’ as jy vra hoe gaan dit. Dis só ’n eg Suid-Afrikaanse woord. Ek het gedink dit sal ’n lekker idee en konsep wees vir ’n song,” verduidelik hy.
Met die pakkende reël “Dis ’n fees om die gees na ’n fees toe te bring” wou Pieter Marcato die hart van die lied vasvang. “Wat ek daar probeer sê, is dat dit altyd lekker is om die gees – die vibe – te wees by ’n kuier, fees of braai,” sê hy.
“Lekker Man” se kernboodskap is eenvoudig: geniet jouself. “Dis net om ’n lekker mens te wees en te kuier en jou lewe te geniet,” sê Pieter. Die lirieke bevat speelse verwysings soos “Gin vir ou Hin” en “wyn vir Charmaine”, maar hy bevestig dat dit simbolies is van vriendskap, karakter en lekker saamkuier – en natuurlik ’n bietjie tong-in-die-kies humor.
Die atmosfeer in die ateljee was net so vrolik soos die lied self. “Ons het ’n lekker tyd in die studio gehad… baie gelag! En ons het vir Kosie Beukes gekry op die konsertina, wat groot pret was,” vertel Pieter.
Pieter Marcato glo vas dat musiek ’n unieke vermoë het om mense nader aan mekaar te bring. “Musiek speel ’n groot rol in mense se lewens – dis die klankbaan van mens se lewe,” sê hy. Dit sluit perfek aan by die refrein se uitnodiging: “Vanaand gaan ons net lekker memories maak.”
Om die refrein só aansteeklik te maak, het Pieter spesifiek op die kuiergevoel gefokus. “Repetisie, en dan ook ekstra stemme in die koor, om dit soos ’n kuierplek te laat klink,” verduidelik Pieter.
“Lekker Man” is vervaardig deur Jaques Lotter, met musikale bydraes deur Jos Oosthuizen op elektriese kitaar en
Kosie Beukes op konsertina.
Hoewel die liedjie duidelik binne Pieter se kenmerkende styl val, wys dit ’n nuwe speelsheid in sy werk. “Ja, dis in my styl – dalk bietjie meer speels as wat ek gewoonlik sal wees,” sê hy.
Wat Die Lied Vir Pieter Marcato Self Beteken
Vir Pieter is die idee van ’n perfekte kuier eenvoudig en heel-Suid-Afrikaans. “’n Lekker skaaptjopbraai saam pelle by my huis, met lekker musiek en geselskap. Mense moet net ’n lekker tyd hê en die song geniet. As dit ’n smile op iemand se gesig sit, het ek reggekry wat ek wou.” sê Pieter.
Kyk die video vir “Lekker Man” hier onder:
Pieter Marcato is reeds besig met nuwe werk en beloof verrassings. “Ek is besig om aan ’n interessante song te werk – dalk iets heel anders as wat ek voorheen uitgebring het.” sê hy.
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music Videos category op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, Subscribe to our newsletter.
Looking for something to do? Check out our Upcoming Events section or the SA Gig Guide.
Want to explore the SA Music Scene? Check out our Artist/Band/Group Profiles section.
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify.



