Sedert hy in 2022 sy buiging in die plaaslike vermaakbedryf gemaak het, sien die sanger, liedjieskrywer en akteur, Ilán van Staden, se bewonderaars al uit na sy eerste vollengte album.
Nou, na meer as ’n jaar se harde werk en beplanning, is die wag uiteindelik verby, want My Mense is pas vrygestel en beloof om musiekliefhebbers se grootste verwagtinge te oortref.
Dié twaalfsnit-album bestaan uit ’n kombinasie van goedvoel- en country-musiek wat sorgvuldig uitgesoek is om almal wat daarna luister tuis en gemaklik te laat voel.
Ilán van Staden vertel ons meer oor hierdie album
“Hierdie album bestaan uit stukke. Stukke van my, stukke van al die kosbare mense na aan my en ’n stuk van ’n groot droom wat uiteindelik waar geword het,”
Verskeie gesoute vervaardigers, waaronder Dirk van Niekerk, Robin Kylie en Arnold de Wet, en liedjieskrywers soos Johan Vorster, Jacomien de Wet, Arnold de Wet en Ilán self, het saamgewerk om ’n volmaakte eindproduk te skep waarop die kunstenaar besonders trots is.
Ilán van Staden vertel ons van sy ervaring agter die skerms
“Die meeste van die liedjies is in ’n kreatiewe span-opset geskryf op verskillende plekke, van Johan se TV-kamer en Jacomien se eetkamertafel tot in Namibië se Hentiesbaai. Dis ’n smeltpot van goeie herinneringe, drome, gedagtes en ervarings wat vasgevang is op papier. Ek was heeltemal verstom oor die proses en dit was wonderlik om te sien hoe elke lied lewe kry in die ateljee. Dit was ’n baie opwindende tyd en ek sien uit om aan te hou groei en leer.”
Hoewel dit vir hom moeilik is om ’n gunsteling-treffer te kies, erken hy dat “SMK”, “Wannelaas” en “My Mense” hom na aan die hart lê en daarom is hulle ook die eerste drie snitte wat jy hoor wanneer jy eers begin luister.
’n Paar spesiale vertonings word beplan om die album amptelik aan die publiek bekend te stel en meer inligting hieroor sal op sy sosialemediaplatforms gedeel word.
Ilán Van Staden het in 2022 vir homself naam gemaak as deel van die suksesvolle teaterproduksie, Die Gelofte: ’n Musiekblyspel, waarna hy in 2023 een van die hoofrolle in nog ’n musiekblyspel, Die Kaplyn, vertolk het en ’n platekontrak losgeslaan het by Inhoud Huis Musiek.
Hy het reeds vier suksesvolle enkelsnitte, waarvan Ontlaai die temalied is van die kykNET-program Safari Roetes, en ’n duet met Bernice West uitgereik wat almal deel uitmaak van sy nuwe vrystelling.
Vandat Ilán Van Staden kan onthou, wou dié 26-jarige Pretorianer nog altyd musiek maak. Hy het as tiener begin musiek skryf en saam met sy skoolorkes optree.
Verder was hy ook dromspeler en mede-komponis van verskeie Sêr-groepe op universiteit – hy het sy meestersgraad in omgewings- en biologiese wetenskappe aan Noordwes-Universiteit behaal in 2019 – terwyl hy op elke geleentheid wat hy kon kry saam met musiekgroepe opgetree het in Potchefstroom.
Sedertdien werk hy hard daaraan om sy musiekvaardighede op te skerp en die beste te maak van elke geleentheid wat hy kry en daarom het hy ook aan die derde seisoen van The Voice SA deelgeneem.
Wanneer Ilán Van Staden nie op die verhoog is nie, bestuur hy sy eie musiekskool Ilán’s Music Academy (IMA) in Muldersdrif, wat vanjaar reeds vyf jaar bestaan en sang-, drom-, en kitaarlesse aanbied vir enigiemand bo die ouderdom van vyf.
My Mense is ’n lekkerluister-album wat sal aanklank vind by enigiemand met ’n liefde en passie vir Afrikaanse musiek en is ’n opwindende nuwe hoofstuk in hierdie begaafde musikant se baie belowende loopbaan.
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music News kategorie op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, subscribe to our newsletter or join our WhatsApp Community.
If you like what we're doing for the SA Music Scene, feel free to buy us a coffee!
If you're looking for something to do, check out our SA Gig Guide. Alternatively. feel free to check out our Featured Posts or scroll down to see a list of related posts.
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify or YouTube Music. These playlists are updated regularly.
Feel free to follow @hennokruger on TikTok or subscribe to SA Music Zone on YouTube.
If you're looking for the latest entertainment news, check out Running Wolf's Rant.
Feeling factual? Check out Interesting Facts.