Net soos met gewoontes en tradisies, soos om ’n Sondagmiddagknippie (SMK) te vat om jou battery te herlaai vir die week wat kom, hou ware liefde ook ’n blywende en bekende betowering in wat selfs na baie jare jou hart steeds laat vinniger klop.
In sy nuutste enkelsnit, “SMK”, sing die gewilde sanger en akteur, Ilán van Staden, oor dié tipe liefde wat – net soos ’n verkwikkende middagslapie – gereeld jou siel herlaai en die jonger generasie inspireer om in jou voetspore te volg.
Ilán van Staden verduidelik waaroor die liedjie gaan
“Dit gaan oor ou liefde wat vir altyd hou en sodoende nog soos jong liefde voel. Dit word gekombineer met die konsep van daardie lekker skuins-lê na kerk op Sondae voor die week weer begin en alles lekker besig raak.”
Ilán van Staden het die snit saam met Johan Vorster en Jacomien de Wet geskryf. Volgens die sanger, was die besluit om ’n akroniem as titel te gebruik doelbewus om mense te laat wonder, en word dié konsep wat ook deur die ouer garde afgekort is of as ‘knippie’ beskryf is, breedvoerig in die koor verduidelik.
Dirk van Niekerk was aan stuur van sake in die ateljee en het dit reggekry om moderne country-elemente te verweef met moderne tendense om ’n baie besonderse eindproduk te skep wat lank in jou kop bly vassteek nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.
Net soos met sy vorige enkelsnit, “Ontlaai” – wat ook die temalied is van die kykNET-program Safari Roetes – spog die lied ook met ’n musiekvideo wat die lirieke en boodskap perfek komplementeer.
Die video is op Langkloof-plaas in Vaalwater verfilm, met Inhoud Huis Musiek as vervaardiger, Johan Vorster as regisseur en Abel Knobel as DOP, en speel af in ’n ou plaashuis wat ’n tipe warmte en nostalgie aan die video verleen.
Ilán van Staden verduidelik die musiekvideo vir “SMK”
“Dit vertel die storie van Boetie wat vir die eerste keer sy meisie huis toe bring, sy ouers se opgewondenheid daaroor en die wisselwerking tussen ou en jong liefde. Boetie besef ook dat sy pa cheetahs gevlieg het wat bydra tot ‘Kaplyn’-geïnspireerde plekke en tonele en die insluiting van ’n TSI Sling-vliegtuig wat toertjies doen in een van die tonele.”
Oud en jonk sal aanklank vind by die idee van ‘magies vol, ogies toe’ en skuins-lê-na-kerk en by die boodskap dat ware liefde vir altyd hou.
“SMK” is die musikant se vierde enkelsnit en vorm deel van sy debuut-album, My Mense, wat einde September uitgereik word. Ilán het in 2022 vir homself naam gemaak as deel van die suksesvolle teaterproduksie, Die Gelofte: ’n Musiekblyspel, waarna hy in 2023 een van die hoofrolle in nog ’n musiekblyspel, Die Kaplyn, vertolk het en ’n platekontrak losgeslaan het by Inhoud Huis Musiek.
Buiten vir sy eie musiek, het Ilán van Staden ook ’n duet uitgereik genaamd “Soen My Op My Mond” saam met Bernice West, wat spesifiek vir Die Gelofte geskryf en steeds ’n treffer is op radiostasies landswyd.
Vandat hy kan onthou, wou dié 27-jarige Pretorianer nog altyd musiek maak. Hy het as tiener begin musiek skryf en saam met sy skoolorkes optree. Verder was hy ook dromspeler en mede-komponis van verskeie Sêr-groepe op universiteit – hy het sy meestersgraad in omgewings- en biologiese wetenskappe aan Noordwes-Universiteit behaal in 2019 – terwyl hy op elke geleentheid wat hy kon kry saam met musiekgroepe opgetree het in Potchefstroom.
Sedertdien werk Ilán van Staden hard daaraan om sy musiekvaardighede op te skerp en die beste te maak van elke geleentheid wat hy kry en daarom het hy ook aan die derde seisoen van The Voice SA deelgeneem.
Wanneer Ilán van Staden nie op die verhoog is nie, bestuur hy sy eie musiekskool Ilán’s Music Academy (IMA) in Muldersdrif, wat vanjaar reeds vyf jaar bestaan en sang-, drom-, en kitaarlesse aanbied vir enigiemand bo die ouderdom van vyf.
Verder sien hy uit om die land plat te toer om sy opkomende album te bemark en sy stempel behoorlik op die plaaslike musiekbedryf af te druk.
“Die Here is goed vir my en dit kan net opgesom word as onverdiende guns. My beker loop oor. Ek is dankbaar vir vandag en opgewonde vir môre,” sê Ilán van Staden.
“SMK” is ’n lekkerluisterliedjie wat jou uitnooi om saam te sing en jou herinner dat ware liefde jou net so kan laat tuis voel soos die tradisies wat jou mense al vir dekades lank volg. Die enkelsnit is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit HIER.
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music Videos kategorie op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, subscribe to our newsletter or join our WhatsApp Community.
If you like what we're doing for the SA Music Scene, feel free to buy us a coffee!
If you're looking for something to do, check out our SA Gig Guide. Alternatively. feel free to check out our Featured Posts or scroll down to see a list of related posts.
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify or YouTube Music. These playlists are updated regularly.
Feel free to follow @hennokruger on TikTok or subscribe to SA Music Zone on YouTube.
If you're looking for the latest entertainment news, check out Running Wolf's Rant.
Feeling factual? Check out Interesting Facts.