Afrikaanse sanger-liedjieskrywer Jaid River is terug met haar tweede enkelsnit van 2025 – en dié keer is dit nie net ’n lied nie, maar die hartklop van haar komende EP. “Marionet” is ’n eerlike, introspektiewe snit wat nie net as enkelsnit dien nie, maar ook die titelsnit van die EP wat op 8 Augustus 2025 vrygestel word.
Jaid River se nuwe liedjie is meer as net ’n lied
“Ek weet dis nie ’n tipiese enkelsnit nie,” erken Jaid. “Maar dit was vir my belangrik om ‘Marionet’ só vry te stel, want dit is die lied wat alles bymekaar bring. Dis die emosionele kern van hierdie projek.”
Die lied is oorspronklik aan die einde van 2022 geskryf en is die eerste keer op die verhoog uitgevoer tydens haar Verlanger-albumvrystelling in Maart 2023.
Jaid vertel dat die idee vir die lied ontstaan het ná verskeie gesprekke oor hoe mense vasgevang voel – in hul werk, hul lewens, hul keuses.
“Ek het ’n beeld gesien van ’n marionet – ’n houtpop wat aan toutjies hang,” verduidelik sy. “En toe wonder ek: Is ons regtig vas, of is dit iets wat ons kies? En as dit ’n keuse is, hoe lyk dit om daardie toutjies te sny?”
Die produksieproses van “Marionet” was vir Jaid ’n kreatiewe uitdaging. Die lied moes drie keer heeltemal oorgedoen word in verskillende toonsoorte en style voordat die finale weergawe in Mei 2025 by Jaco Smit Music Studios in Midstream opgeneem is.
“Ek wou daardie gevoel van ongemak en spanning in die musiek vasvang. Dis nie ’n gemaklike lied nie – dis bedoel om jou te laat dink,” sê sy.
Wat “Marionet” onderskei van Jaid se vorige werk, is haar skuif weg van elektroniese invloede. Die lied gebruik akoestiese instrumente, en daar is ’n intieme, organiese gevoel wat dit van haar ander snitte onderskei. “Dis my eerste wals,” sê sy met ’n glimlag. “En dis heel moontlik die eerlikste lied wat ek nog geskryf het.”
Soos aanhangers al verwag van Jaid River, is die lirieke van “Marionet” diep, introspektief en deurdrenk van betekenis. “Dis een van my gunstelinge nog,” sê sy. “Ek hoop dit beteken iets vir ander mense, soos dit vir my doen.”
“Marionet” is nou beskikbaar op alle digitale platforms, en Jaid River se volledige EP volg op 8 Augustus 2025.
Jy kan dit HIER stroom/aflaai.
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music News kategorie op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, Subscribe to our newsletter.
Looking for something to do? Check out our Upcoming Events section or the SA Gig Guide.
Want to explore the SA Music Scene? Check out our Artist/Band/Group Profiles section.
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify.