Hulle sê goeie dinge gebeur met diegene wat bereid is om te wag. Dit is beslis waar van die ikoniese sanger en liedjieskrywer, Anton Goosen, se langverwagte nuwe album wat pas uitgereik is en beloof om bewonderaars se verwagtinge behoorlik te oortref.
“Ek het baie lank gewerk, nagevors en opgeneem aan die album,” verduidelik die Liedjieboer. “Ons – Peter Pearlson, my ingenieur-maestro vriend, kitaarspeler Illimar Neitz, baskitaarspeler Schalk Joubert, en tromspeler Kevin Gibson – het aan die einde van 2022 die eerste twee snitte begin opneem. Die res is deur die loop van 2023 voltooi.”
Anton Goosen beskryf die album se musiekstyle en inkleding as uiteenlopend “Dit wissel van ballades oor die liefde en soms vereensaming, van die esoteriese na ghoema, en van ernstige protesrock uit Illimar se snare na smokey blues. Maar in die geheel is dit ’n nuwe eenvormige klank, anders as al my vorige albums.”
Die welbekende en immergewilde kunstenaar verduidelik dat hy eers nadat die album voltooi is, besef het dat die titel Sirkels moet wees.
“Die begrip maak spreekwoordelike draaie deur die ganse album,” verduidelik die Liedjieboer. “Ek en Peter werk al sedert 1987 saam en hy is al gewoond daaraan dat ek na voltooiing van ’n album ‘a late thought on the highway’ kry. Hierdie keer was dit die slot-deel van die laaste liedjie, toe ek weer dink aan Jean-Baptiste Karr se woorde ‘hoe meer dinge verander, hoe meer bly als dieselfde’, met ander woorde, die sirkels van die lewe.”
“Die liedjies op die album maak draaie nie net van die liefde en die lewe nie, maar die sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.”
Meer inligting oor Anton Goosen se nuwe album
Sirkels bevat nege nuwe liedjies, insluitend drie toonsettings – “Bly by my, (my lief)” en “Êrens is jy” van Antjie Krog, asook “Apollo 11” (Ruimtestasie Houston) van DJ Opperman. Dit sluit ook twee duette, met onderskeidelik Lise Swart en Zolani Mahola van Freshlyground, in.
Die eerste enkelsnit vanaf die album, “Bly by my, (my lief)” – wat hy vir die Woordfees getoonset het – is sedert dit in Meimaand uitgereik is, baie goed deur luisteraars, radiostasies en resensente ontvang.
Die omslagontwerp vir die album is deur Carel de Beer van Onelove gedoen.
Meer inligting oor Anton Goosen
Anton Goosen is in 1946 in die Karoo gebore en het in Kroonstad grootgeword. Kruidjie-roer-my-nie was sy eerste enkelsnit wat kommersiële sukses behaal het. Sy eerste album, Boy van die suburbs, was ook in 1979 ’n kitssukses.
Dié lewende legende, wat algemeen as die vader van Afrikaanse rock beskou, het al meer as 20 albums uitgereik, die musiek vir verskeie films geskryf – waaronder ’n Brief vir Simone (1980), Die Laaste Tango (2013), en Siembamba (2017), asook liedjies vir beroemde kunstenaars, insluitend Laurika Rauch, Richard Clayderman, Sonja Herholdt, Carike Keuzenkamp, Koos Kombuis en vele meer, neergepen.
Sy laaste album, 40 jaar: Liedjieboer Innie Langpad, is in 2019 uitgereik. Hy is ook tydens sy dekades-lange loopbaan as liedjieskrywer en sanger met verskeie toekennings vereer, insluitend SAMA-, Innibos-, en FAK-toekennings vir sy lewenslange bydrae tot musiek.
Buiten die uitreiking van Sirkels werk Anton Goosen vanjaar aan verskeie konsertvertonings, asook ’n vier-episode dokumentêr saam met filmvervaardiger Niel van Deventer.
Wanneer hy nie besig is met sy musiek nie, geniet hy tyd – en ’n glasie Kaapse rooiwyn – saam met sy beminde, Estie, en hul vier honde, stappies op die strand, gesprekke met vriende, en om reekse op Netflix of Britbox te kyk.
Sirkels is meesterlik saamgestel en bied ’n lekkerluister-ervaring vir oud en jonk. Dis nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit HIER.
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music News kategorie op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, subscribe to our newsletter or join our WhatsApp Community.
If you like what we're doing for the SA Music Scene, feel free to buy us a coffee!
Living in South Africa and looking for a new smartphone? Check out Mondo Mobile - They partner with major networks to offer competitive deals, making it easy to find affordable options for your connectivity needs.
If you're looking for something to do, check out our SA Gig Guide. Alternatively. feel free to check out our Featured Posts or scroll down to see a list of related posts.
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify or YouTube Music. These playlists are updated regularly.
Feel free to follow @hennokruger on TikTok or subscribe to SA Music Zone on YouTube.
If you're looking for the latest entertainment news, check out Running Wolf's Rant.
Feeling factual? Check out Interesting Facts.