“Die verlede lê ver agter – dis die toekoms wat wink. Vir die dansende ster, wat in Luka se blou oë so blink…” is van die treffende lirieke uit die legendariese musikant en liedjieskrywer, Anton Goosen, se nuutste enkelsnit wat beloof om ’n blywende impak te hê op elkeen wat daarna luister. Die enkelsnit is in Oktober 2024 uitgereik.
“Luka”, wat “lig” of “draer van lig” beteken in verskeie Slawiese tale is ’n strelende akoestiese ballade in ’n 6/8-walsgenre, uit Anton Goosen se eie pen, wat die vreugde en hoop beliggaam wat saam met ’n nuwe lewe kom.
Volgens die Liedjieboer vang dié snit die liefde en onskuld deur die oë van ’n pasgebore seuntjie vas. “Hierdie is ’n liefdesliedjie oor ’n klein seuntjie, genaamd Luka, met die blouste oë in die wêreld. Die boodskap is diep, maar eenvoudig: gryp die dag – carpe diem.” verduidelik hy.
Met inspirasie uit die filosoof Nietzsche se woorde, ““uit chaos kom daar ’n dansende ster””, beskryf Anton die metaforiese “lig” van die dansende ster as die fakkel wat in Luka se oë skyn.
“Met nuwe lewe kom nuwe hoop,” filosofeer hy. “Ek skryf dikwels oor waarnemings en emosionele ervarings, soms verander ek name en soms nie.”
Luisteraars sal kan identifiseer met die universele temas van liefde en verbintenis wat in “Luka” vervat is. “Liefde is die een konstante deur die eeue. Die wens vir ‘mooi loop’ (hamba kahle) in die koorgedeelte is universeel, ongeag die taal.”
Die enkelsnit sluit harmonieë van Lise Swart en Zolani Mahola in, met Illimar Neitz op kitaar, Schalk Joubert op bas, Kevin Gibson op tromme en Keith Farquharson op die Hammond-orrel.
“Luka” volg in die suksesvolle voetspore van “Gigi”, wat baie goed ontvang is en steeds oor die radio gehoor kan word. ’n Musiekvideo van dié besonderse lied sal vanaf 28 Oktober 2024 beskikbaar wees.
Hierdie video het ’n tydlose en futuristiese konsep. Dit kombineer skote van die natuur se ewige skoonheid met mensgemaakte elemente om die tema van tyd se voortbestaan, met of sonder ons, uit te beeld.
Die idee spruit uit die gedagte dat uit die chaos van die eeue ’n dansende ster kan ontstaan – ’n viering van die wonder van die lewe, soos gesien in die oë van ’n kind soos Luka.
Die video is ’n kombinasie van ou video’s, argiefmateriaal en tonele wat verfilm is op ’n wynplaas buite Stellenbosch tydens die Woordfees, met Niel van Deventer as regisseur.
Kyk die video hier onder:
Alom bekend as die vader van Afrikaanse rock, betower Anton Goosen luisteraars reeds vir dekades met sy boeiende lirieke en onvergeetlike deuntjies.
Meer inligting oor Anton Goosen
Hy is in 1946 in die Karoo gebore en het in Kroonstad grootgeword. Oor die jare, het hy meer treffers op sy kerfstok versamel as enige ander Suid-Afrikaner, waaronder “Silver de Lange”, “Boy van die suburbs”, “Byeboerwa”, “’n Brief vir Simone”, “Kruidjie-roer-my-nie”, “Jantjie”, “Waterblommetjies”, “Harlekyn”, “Hanoverstraat”, “Trein na Matjiesfontein”, “Ta’ Mossie se sakkie-sakkie boeredans” en vele meer.
Sy bydrae tot musiek het hom verskeie toekennings besorg, insluitend SAMA-, Innibos-, en FAK-toekennings.
In 2022 het hy sy eie reeks vellies, Jantjie Veldskoen, in samewerking met Vellies Boutique bekendgestel, en sy lewensverhaal, “Anton Goosen: Liedjieboer”, geskryf deur die bekende joernalis Hanlie Retief, is in 2020 deur NB-uitgewers gepubliseer.
Anton Goosen se planne vir 2025 sluit gereelde toere en optredes en ’n paar nuwe liedjies in, asook spesiale projekte om Afrikaans as ’n amptelike taal, wat 100 jaar gelede in Mei erken is, te vier.
“Ek is ook opgewonde oor die komende vier-episode-dokumentêr ‘Riviersonderend’, wat ook deur Niel van Deventer vervaardig is en binnekort uitgereik sal word,” voeg Anton Goosen by.
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music Videos kategorie op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, subscribe to our newsletter or join our WhatsApp Community.
If you like what we're doing for the SA Music Scene, feel free to buy us a coffee!
If you're looking for something to do, check out our SA Gig Guide. Alternatively. feel free to check out our Featured Posts or scroll down to see a list of related posts.
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify or YouTube Music. These playlists are updated regularly.
Feel free to follow @hennokruger on TikTok or subscribe to SA Music Zone on YouTube.
If you're looking for the latest entertainment news, check out Running Wolf's Rant.
Feeling factual? Check out Interesting Facts.