Die langverwagte program vir Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) 2025 is nou beskikbaar. Konserte, meesterklasse en meer vorm deel van die 20 jaar mylpaal-viering van een van die wêreld se mees gesogte jaarlikse klassieke musiekbyeenkomste.
Daar is lank reeds met groot afwagting uitgesien na die bekendstelling van die program vir die aandkonserte tydens die opkomende Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees. Die Artistieke Direkteur, Nina Schumann, het weereens met ’n boeiende afwisseling tussen ou en nuwe musiek vorendag gekom – ’n samestelling wat die verbeelding van klassieke musiekliefhebbers beslis sal aangryp.
Aandkonserte, afskop en ’n spesiale herkomsorkes
Die aandkonserte sal tussen 4 en 13 Julie om 20:00 in die Endlersaal plaasvind. Om die twintigste aanbieding van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees te vier, skop die fees reeds op Donderdag 3 Junie af met ’n luisterryke uitvoering deur die SIKMF Alumni-Simfonieorkes – ’n ensemble saamgestel uit vorige deelnemers van die Kamermusiekfees.
Die program sluit werke in soos Mahler se “Vyfde Simfonie”, Matthijs van Dijk, en Gershwin se “Concerto in F”. Die dirigent is Jacobus de Jager en die konsertmeester is Ian Watson – ’n deelnemer van die heel eerste SIKMF in 2004. Klaviersolis Leo Gevisser, oudleerling van prof. Nina Schumann en afgestudeerde van die Juilliard School of Music in New York, sal ook optree.
Opgedateerde Barok en feestelike flair
Die personeelkonserte begin op Vrydagaand, 4 Julie met Max Richter se herverbeelding van Vivaldi se “Vier Seisoene”, met die internasionaal gevierde Daniel Rowland as violis. Die aand eindig met ’n uitbundige kombinasie van mode, kunstenaarskap en flair – gebaseer op Ravel se “Bolero” – wat luisteraars ’n voorsmaak gee van wat nog kom.
Vir diegene met ’n klassieke voorkeur is daar ruim voorsiening: Beethoven, Strauss, Sjostakowitsj, Brahms en Saint-Saëns is op die program. Maar die fees bly ook getrou aan sy missie om kontemporêre komponiste ’n verhoog te bied. Werke van Kapustin, Macky, Widmann en die veelbekroonde Olli Mustonen sal uitgevoer word.
En as jy in 2019 die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees All Stars se weergawe van AC/DC se “Thunderstruck” beleef het, moet jy Donderdag 10 Julie se konsert nie misloop nie!
Vanjaar se feeskomponis is die internasionaal bekende jazzpianis Kevin Harris. Sy werk “RESONANCE: A Contemporary Symphonic Reflection Through the Courageous Lens of Steve Biko” word op Dinsdag 8 Julie vir die eerste keer uitgevoer. Hierdie werk, geïnspireer deur die geskrifte van Steve Biko, beoog om luisteraars tot nadenke te stem oor sosiale vooruitgang deur die lens van jazz en klassieke musiek.
Terwyl die personeel elke aand meesterwerke uitvoer, bied hulle bedags afrigting, meesterklasse, en interaksie aan meer as 300 studente. Baie van hierdie studente sal ook saam met hul mentors op die aandverhoog verskyn. Bykomende studentkonserte word daagliks om 13:00 en 17:00 aangebied.
Internasionale en nuwe kunstenaars op die verhoog by die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees
Gewilde kunstenaars soos Nicholas Dautricourt, Andrej Baranov, Suzanne Martens, Farida Bacharova, Xandi van Dijk, Maja Bogdanovic, David Cohen, Ekaterina Kornishina, Dwight Parry, YaoGuang Zhai, Marco Silva, Jauvon Gilliam en Emanuil Ivanov is vanjaar weer deel van die program.
Eerste keer optredes sluit in Jose Garcia Gutierrez (horing), Zoran Markovic (kontrabas), Bram van Sambeek (fagot) en Daniel Austrich (viool). Die volledige lys kunstenaars is beskikbaar HIER.
Finale viering: vier orkeskonserte
Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees eindig met vier groot orkeskonserte – drie in die Endlersaal en een in die gemeenskapsaal in Kayamandi. Die Fees-Simfonieorkes onder leiding van Antony Hermus sal Brahms se “Eerste Simfonie”, asook werke van Nino Rota en Maurice Ravel uitvoer. Soliste sluit in Bram van Sambeek en Emanuil Ivanov.
Die Fees-Konsertorkes, onder leiding van die Grammy-bekroonde Michael Repper, sal werke van Bizet, Beethoven en Saint-Saëns uitvoer, met Maja Bogdanović as solis.
Kaartjies en besonderhede
Volledige feesinligting is beskikbaar HIER.
Konsertkaartjies aanlyn beskikbaar op Webtickets.
Hou jou ogies oop vir gereelde opdaterings in die Music News kategorie op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, Subscribe to our newsletter or if you're looking for something to do, check out our SA Gig Guide.
If you like what we do and you want to support us, feel free to buy us a coffee!
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify or YouTube Music. These playlists are updated regularly.
Looking for a gift for that special person in your life? Check out Netflorist.co.za, South Africa's top online florist and gift service. They offer flowers, gifts, and hampers for all occasions AND reliable nationwide delivery.