Zybrandt is een van die mees opwindende nuwe stemme in die Afrikaanse- musiekbedryf. Sy debuut-liedjie Anders wat vroeër vanjaar uitgereik is, het verskeie posisies op radio-trefferlyste landwyd gehaal. Die tweede liedjie Kamoefleer wys op Zybrandt se musikale vaardigheid en `n derde enkelsnit Vlerke Neer is in Oktober uitgereik om voorbrand te maak vir Zybrandt se 5-snit EP Sneeu en Satyn wat op 5 November die lig sien.
Zybrandt sê dat Vlerke Neer vir hom die naaste aan sy hart is
“Dit is geskryf vir my vriend en musiek-vervaardiger, Jeremy, se meisie, Fleur, wat in 2017 aan kanker oorlede is. Dit was `n moeilike tyd en nou, jare later, was dit ook nie maklik om die liedjie uiteindelik op te neem en alles weer so helder te herleef nie. Vlerke Neer is ‘n huldeblyk aan geliefdes wat die grootste oorlog baklei het, nie vir hulself nie, maar vir die wat nie ‘n manier kon vind om hulle te laat gaan nie.”
“Dit vier die herinneringe wat in ons verewig is, die impak wat dit in ons lewens gemaak het en hoe dit nooit sal verander nie. Dit is dan ook hoe ek by die idee van die video vir die liedjie uitgekom het. Daar is ‘n paar mense waarvan ek weet vir wie die liedjie ook baie beteken so het gedink ek sal hulle vra om deel te wees.”
“Elk moes een van die reëls van die liedjie vashou en hul het ook die opsie gehad om dit aan iemand op te dra wat nie meer met hulle is nie. Soveel van my vriende wou deelwees; ek het in `n kort tydjie nadat ons met alles begin het nie meer lirieke oor gehad om uit te deel nie…Dit is omtrent oorweldigend om te besef hoeveel mense hulself kan vereenselwig met die boodskap van Vlerke Neer. “
Zybrandt het grotendeels in sy jonger dae vir Engelse rock bands gesing. Hy vertel
“Die wêreld was goed en om live shows by te woon was meer ‘n leefstyl as iets wat jy net op spesiale geleenthede gedoen het. As ons nie op die verhoog was nie, was ons in die gehoor. Dit was gedurende hierdie tyd dat Francois van Coke – hulle by een van ons vertonings in Bellville opgedaag het en vir ons vertel het dat hulle vir ons iets in die kar wil speel.”
“Dit was van die eerste rowwe Fokofpolisiekar liedjies. “Ons begin ‘n nuwe Afrikaanse band!! Julle moet dit ook doen! “, het Francois opgewonde gesê. “Is jy mal!? Dit sal nooit werk nie,” het ek dadelik geantwoord.”
“Wel……Dit het my nogal lank geneem. Om in Afrikaans te sing. Ek het altyd gevoel dat dit iets is wat bietjie bo my vuurmaakplek is. Om wat binne my aangaan in Afrikaanse lirieke oor te kan dra. Ek het besef dat indien dit iets is wat ek gaan doen, ek dit eerlik en opreg moet doen.”
“Dit is dan ook die rede hoekom ek besluit het om onder my eerste naam Zybrandt te sing. Moedertaal energie. Nou, ‘n leeftyd later, en al die storms, droogtes, veldbrande, riviere en sonskyn wintersdae het uiteindelik iets gevorm wat ek nou in my eie taal met die wêreld kan deel.”
Een van die dinge wat Zybrandt tans intereseer is geskiedenis. Hy verduidelik
“Ek wil weet waar ons regtig vandaan kom. Gelukkig was my familie oor die jare klaar besig met navorsing oor ons voorouers. Ek kon baie by hulle leer en ek voel meestal “trots Afrikaans.” Tot eendag in ‘n supermark. Daar het ‘n jong Afrikaanse mannetjie begin skree op ‘n dametjie agter die til oor ‘n prys wat nie op ‘n produk was nie.”
“Hy het ook vir haar mooi laat verstaan dat hierdie “ons land” is en dat sy nie hier hoort nie. Net daar het ek weereens besef wat ek al as kind geweet het: Net omdat ons altwee dieselfde taal praat, maak ons nie deel van dieselfde span nie. Ek het die gevoel wat daai dag deur my bloed gehardloop het probeer weergee in die liedjie Renoster in ‘n SuperSpar. Ek is lief vir Afrikaans en daar sal altyd die wees wat my trots maak om Afrikaans te wees. Maar dit is ongelukkig nie al vereiste wat daar is vir my om saam met jou te staan nie.”
Wanneer dit tyd is vir refleksie, trek Zybrandt terug na sy plekkie langs ‘n riviertjie op ‘n plaas in Barrydale. Weggesteek agter die kantgordyn blare van ‘n ou wilgerboom. Hy vertel
“Kamoefleer is die storie van hoe ek soms so wegraak van die wêreld. Jeremy het dit uitgebeeld op sy eie manier in die fabelagtige musiekvideo wat hy vir die liedjie gemaak het. Ek het geleer dat ek en die mense om my ook verander. Dit fassineer my. Hierdie tema was dan ook die inspirasie vir die liedjie Anders.”
“Ek is baie lief vir al die songs wat ek skryf. Maar ek het iewers langs die pad nogal geworstel met die betekenis van dit alles. Vir wie is my liedjies bedoel en verstaan mense waaroor dit gaan? Ek het in hierdie tyd Sing Alleen geskryf. Ek het toevallig met Margot van Wyk gesels oor `n moontlike collab – en weet toe onmiddelik dat ek hierdie een saam met haar moet opneem: Ek sing alleen, sy sing alleen. Kom ons sing alleen saam.”
Goeie nuus vir Kaapse aanhangers is dat Zybrandt Sneeu en Satyn op 20 November by Die Boer in Durbanville bekendstel. Kaartjies is R150. Bespreek HIER.
Jy kan Zybrandt se EP HIER stroom.
Wees op die uitkyk vir gereelde opdatering in die Music News kategorie op SA Music Zone.
To stay in the loop with all things SA Music, subscribe to our newsletter or join our WhatsApp Community.
If you like what we're doing for the SA Music Scene, feel free to buy us a beer!
If you're looking for something to do, check out our SA Gig Guide. Alternatively. feel free to check out our Featured Posts or scroll down to see a list of related posts.
Want to discover fresh music? Follow our editor's 2025 playlist on Spotify or YouTube Music. These playlists are updated regularly.
Feel free to follow @hennokruger on TikTok or subscribe to SA Music Zone on YouTube.
If you're looking for the latest entertainment news, check out Running Wolf's Rant.
Feeling factual? Check out Interesting Facts.